DIE GROOT TREK
My apologies to the English readers but this blog I had to write in my home language.
Mes excuses aux lecteurs français mais ce blog que j'ai dû écrire dans ma langue maternelle.
Vandag, 12 Mei, is ek al twee jaar voltyds in Châlus! Dit was nie altyd maklik nie, maar einde ten laaste tog die regte besluit.
Binne die bestek van twee jaar het ek menige keer soos 'n kleuter gevoel - so baie nuwe dinge om te leer en aan gewoond te raak. Buiten aan die verkeerde kant van die pad te bestuur, was daar ook die taalkwessies, kulturele verskille en oneindige burokratiese rompslomp.
My kennis van die Franse taal was voorheen tot die lirieke van Non, je ne regrette rien beperk en alhoewel ek twee jaar voor die groot trek al begin Franse lessies op Duolingo doen het, was ek nie voorbereid op die spreektaal nie - ek het dus vinnig algemene sêgoed aangeleer, asook om breed te glimlag, want dit het die verwarde uitdrukking in my oë verdoesel. Gevolglik was my aandeel in gesprekke aan die begin beperk tot bonjour, ça va, merci, oui, non, d'accord, pas de tout, oh la la, tout à fait en merde ! Dis tragies om duskant sestig soos 'n idioot te voel...maar geleidelik het my woordeskat en taalkennis uitgebrei en na twee jaar kan ek met enige persoon kommunikeer, vir hulp in winkels vra, gebruiksaanwysings lees en die regte bestanddele vir 'n resep koop.
Soms is dit egter nog problematies wanneer dit by die betaling kom - die Franse manier van tel is vreemd! Jy tel normaal tot by nege-en-sestig en dan verander alles! Vanaf sewentig word dit sestig-en-tien, sestig-en-elf, ensovoorts. Tot tagtig. En dan verander dit weer! Tagtig word vier-maal-twintig! Meer verwarring net voor jy by 'n honderd kom...nege-en-neëntig is dan quatre-vingt-dix-neuf of vier-maal-twintig-tien-nege. Merde ! Aan die begin het ek slegs my bankkaart gegee as dit by betaling kom en my aan die genade van die winkelassistent oorgegee! Telefoonnommers word punte gegee na elke twee syfers, bv 06.33.41.71.70 en word ook so gesê: zéro six, trente trois, quarante et un, soixante et onze, soixante-dix of nul ses, drie-en-dertig, een-en-veertig, een-en-sewentig, sewentig. Om van jaartalle nie eers te praat nie! Hoe onnosel moes ek nie vir die treinkaartjie-verkoper voorkom toe ek nie my geboortedatum in Frans kon sê nie...onze novembre mil neuf cent cinquante sept. Un cauchemar ! 'n Nagmerrie!
Die keer toe ek die vinnigste die taal moes aanleer, was in Augustus 2016 (drie maande na die finale trek) toe ek onverwags in die hospitaal in Limoges beland het. Na amper ses jaar se gereelde pynaanvalle op die krop van my maag en verkeerde diagnoses in Kaapstad, het die bom letterlik en figuurlik gebars. Dit was al die tyd nie een nie, maar drie maagsere! Een het gebars en ek het onwetend twee liters bloed verloor...vier dae later het my Franse buurvrou my deurgejaag na die noodeenheid. Merde !
Die eerste dag het ek soos Marcel Marceau, die mimiekkunstenaar, gevoel. Maar in die CHU hospitaal het ek binne drie dae al die liggaamsdele in Frans leer ken, de la tête aux pieds, vanaf kop tot toon!
Om in Frankryk te eet, is 'n allerheilige geleentheid, soos die skrywer Mark Greenside in sy boek (Not Quite) Mastering the Art of French Living gesê het: "In France, cooking and eating are not about taste and nutrition. They’re a combo of religion and sex. It’s tantric, merging pleasure and spirit, but only if done right—right ingredients, preparation, presentation, and flavors." So begin ek gewoonlik ten minste twee dae voor die tyd met voorbereiding - middagete is die hoofmaal van die dag en kan tot tot ses ure duur! Vanaf die peuselhappies saam met 'n aptytwekker, deur die voorgereg, gevolg deur die hoofmaal, 'n kaasgang met baguette en uiteindelik die nagereg en koffie.
Nog ongeskrewe reëls wat ek vinnig moes aanleer, is dat slaai slegs as 'n verkwikker tussen-in bedien kan word, maar nooit saam met bv die hoofmaal nie; brood word nie saam met sop bedien nie, maar wel saam met die kaasgang; 'n kraakvars baguette word nie op 'n bord geplaas om gesny te word nie, maar bloot gebreek en op die tafel langs jou bord gesit; een stel messe en vurke per persoon vir al die geregte waar dit benodig word; sterk speserye word nie waardeer nie en seekosse in plaas van skaapboud vir Kersdag. Verder mag die eerste aptytwekker nie bedien word voordat al die gaste opgedaag het nie - so het ek al vir 'n volle uur droëbek gesit en wag tot die laaste gas opdaag. Merde ! Dit verklaar moontlik hoekom 'n mens nooit betyds vir 'n ete-afspraak opdaag nie...jy daag altyd ten minste 15 minute laat op. Nie uit disrespek vir die gasheer of -vrou nie, maar om hom/haar genoeg tyd te gee indien hy/sy laat is met die voorbereidings. Jy daag dus uit blote hoflikheid laat op!
Nog ander 'kulturele' verskille is dat geen medisyne in supermarkte beskikbaar is nie - baie drank, maar geen hoofpynpille nie! Medisyne moet by die apteek gekoop word en word slegs deur die Franse mediese versekering of Carte Vitale betaal indien dit deur 'n dokter voorgeskryf is. Doktersfooie word egter deur die regering bepaal en is geweldig goedkoop in vergelyking met Suid-Afrika. In Châlus moes ek eers 'n afspraak met 'n dokter van my keuse maak voordat hy my as pasiënt aanvaar het. Elke dorp, maak nie saak hoe klein nie, het ten minste een apteek - apteke is so volop soos boulangeries of bakkerye. Ek hoop altyd dat my apteker (foto hieronder) aan diens is sodat ek nie charades hoef te speel nie - hy kan Engels praat!
Gepraat van supermarkte, die Franse is baie vriendelike mense - elke keer wanneer jy 'n winkel binne gaan, groet jy eers almal met 'n vrolike Bonjour à tous ! En wanneer jy uitloop, wens jy hulle 'n wonderlike dag toe met 'n nog vroliker Au revoir et bonne journée ! En as jy iemand ken, is dit die gewangsoenery, twee soene in my streek - eers met jou linkerwang en dan met jou regterwang. Maar ek het al geleer dat sommige dit kan omruil en dan moet jy vinnig wees om 'n neusbotsing te vermy! Winkels is ook nie altyd oop op die platteland nie, dus moes ek aan die begin baie mooi beplan: Maandae is die banke toe, asook die meeste besighede en verder deur die week sluit die meeste winkels vanaf 12h00 of 12h30 tot 14h00 of 14h30 (vir daardie groot middagete!).
Herwinning is groot in Frankryk en elke vullisdrom of poubelle word geweeg deur die vullisverwyderaars en jy betaal volgens die gewig. Dit is om te verseker dat mense swaar items soos bottels eerder herwin by die dorp se vele herwinningsdromme, waar jy ontslae kan raak van onder andere tydskrifte, koerante, blikke, bottels, plastiese items, ensovoorts. Groter items soos meubels, tuinvullis en ander afval kan na die vullishoop of déchetterie geneem word...
Die burokrasie is oorweldigend in Frankryk - ek wag al 5 maande vir my Franse rybewys, terwyl ek telkens my tydelike rybewys in Limoges moet gaan hernu (Suid-Afrikaanse rybewyse is wonder bo wonder geldig in Frankryk en kan bloot omgeruil word vir 'n Franse rybewys); die motor moet elke twee jaar deur 'n contrôle technique of padwaardigheidstoets gaan; elke jaar vereis Immigrasie 'n magdom dokumente vir die verlenging van my visum, maar met behulp van my nuwe Franse buurvrou, die hoof van Immigrasie in Limoges, het ons nou probeer bewerkstellig dat ek na slegs 2 jaar moontlik 'n carte de séjour of verblyfpermit kan kry. Dan was daar die registrasie as entrepreneur, die kwartaallikse belastingopgawes as entrepreneur en die jaarlikse persoonlike belasting, almal met tonne papierwerk!!! Merde !
Maar soggens word ek wakker, kyk om my heen en sê soos voorheen: Non, rien de rien ! Non, je ne regrette rien !